LITURGIE VAN VANOGGEND SE EREDIENS 

Skriflesing:

Efesiërs 3: 1-21

Teksverse:

Efesiërs 3:14-21

14 Daarom kniel ek in gebed voor die Vader
15 aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het.
16 Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word,
17 dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.
19 Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
20 Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,
21 aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

Sang voor die erediens begin:

Skrifberyming 12-3:1,2; 12-5

Sang tydens die erediens:

Skrifberyming 1-6:1,2,3

Skrifberyming 9-1:1,10,11

Skrifberyming 7-2:1,2

Skrifberyming 15-1:1-4

KOLLEKTES

Vandag se deurkollektes sal vir die GKSA se Sustentasiefonds afgesonder word. Volgende Sondag vir die GKSA se Kas Teologiese Studente te Potchefstroom.

Die kollektes onder die erediens is soos altyd bestem vir die Diakonie se Kas van Barmhartigheid.

GEMEENTEVERGADERING NA DIE DIENS

Daar sal DV vanoggend direk na die erediens ’n Gemeentevergadering in die kerkgebou gehou word om die Gemeente in te lig oor die stand van die kerk se finansies in 2019 en om die Begroting vir 2020 voor te lê.

Dit sal nie lank duur nie en die katkisasie sal daarna normaalweg voortgaan.  Hierdie vergadering is baie noodsaaklik omdat lidmate bewus moet wees wat daar op die finansiële terrein aan die gang is.

Gereelde afdra van bydraes is van die uiterste belang en daaroor sal daar ook ’n voorlegging wees.  Daar is nog steeds lidmate wat glad nie ’n kerklike bydrae maak nie, terwyl ons baie dankbaar is dat daar ook heelwat stewige bydraes is.

TEEBEDIENING

Daar sal vanoggend na die erediens weer tee, koffie en vrugtesap by die kerksaal bedien word. 

Wyk Sewe Damme is vandag aan diens maar met die afskeidsgeselligheid vir sr Madeline Venter sal die teedrinkery vanoggend effens anders verloop. 

[Lees asseblief die berig hiernaas]. 

Volgende Sondag is dit wyk Universitas 1 se beurt waar daar wel ’n wyksouderling is.

ONS GROET VIR ………

Sr Madeline Venter van Sewe Damme 81, vroeër van Kmdt Senekalstraat 8 wat eersdaags na Gauteng vertrek. 

Sy en haar eggenoot, wyle br Piet Venter, was stigterslidmate van ons Gemeente toe ons in Oktober 1961 van Bloemfontein-Wes af-gestig het. 

Sy is tans die enigste oorblywende stigterslid.  Hulle was meelewende lidmate en toe br Piet op 13 Oktober 2004 oorlede is het sr Madeline mettertyd na Sewe Damme verhuis.  Br Piet het met ywer en entoesiasme ’n tydlank as voor-sitter van die Kenmekaargroep (groep van Senior Lidmate) opge-tree. 

Sr Madeline het hom getrou bygestaan.  Ons ken sr Madeline as ’n belese en berese lidmaat met wye algemene kennis en wat baie erns maak met haar godsdiens. 

Sy is ’n gewaardeerde lid van die Oggendbybel-studiegroep.  Haar sin vir humor en hartlike lag sal ons altyd bybly. 

Dis met groot hartseer dat ons van haar afskeid neem maar ons beste wense vergesel haar op haar lewenspad! 

Mag die Here haar elke dag naby wees en mag sy baie gelukkig daar wees!

Daar is vanoggend direk na die diens en vergadering ’n afskeidsgeselligheid vir haar in die saal gereël en alle lidmate word vriendelik daarheen uitgenooi om vir haar totsiens te sê!

TER APPROBASIE

Die naam van br PJS (Koot) Pretorius van Langstraat 226 word ter aprobasie aan die Gemeente voorgehou sodat hy as ouderling in die wyk Serenitas kan dien. 

Ons bid hom die seën van die Here toe by die oorweging van dié roeping.

GEMEENTE-ETE NA NAGMAAL

Oor twee weke (Sondag 15 Maart) vier ons DV die Sakrament van die Heilige Nagmaal. 

Soos gebruiklik sal daar weer ’n Gemeente-ete om 11:30 deur die Susters bedien word. 

’n Heerlike gereg sal voorgesit word en elke gesin word vriendelik gevra om ’n bak slaai van u eie keuse saam te bring asseblief.  

Hierdie slaaie is dan vir almal beskikbaar. 

Verder moet elkeen ook net sy/haar eie drinkgoed saambring.  Die res word alles voorsien. 

Die ete kos weer R40 per volwassenene en Hoërskool-jongmens en R20 vir Laerskool-kinders,  Kleuters eet gratis.

Teken u naam op die vorm in die voorportaal aan indien u die ete wil bywoon. 

Plaas die geld in die Kassie gemerk Sustersbydrae of betaal verkieslik elektronies in hul bankrekening in met vermelding van u naam en “Nagmaal-ete”. 

Die besonderhede is:  Absa (takkode 632 005) en rekeningnommer 0470 341 769. 

Moet dit asseblief nie in die kerk se rekening inbetaal nie!

ONS DINK AAN …

Br Chris en sr Estie Buys van Serenitas.  Dit gaan nie baie goed met br Chris nie.

Br Izak en sr Roza Myburgh na die operasie van sr Roza.

Ons dra hulle (en die ander waarvan ons nie weet nie) op aan die Genadetroon van ons Hemelse Vader,  Mag Hy hulle elke dag besonder naby wees!

ONS OMGEEBOEKIE 2020

Hierdie handige boekie wat al die besonderhede van ons lidmate en wyke bevat en ook agtergrond-inligting oor ons Gemeente en al die bedrywighede verskaf, se 23ste uitgawe sal DV teen die einde van Maart 2020 verskyn. 

Sr Vanessa van der Walt is verantwoordelik vir die byhou van die gegewens en die uiteindelike druk van die boekie. 

Daar is nog heelwat gesinne/lidmate waarvan daar nie foto’s verskyn nie en veral nuwe intrekkers wie se foto’s ontbreek. 

Ons wil graag ’n beroep doen op lidmate wie se foto tans nie daarin verskyn nie, om een aan Vanessa by info@gkbfnnoord.co.za te stuur.  

Dieselfde geld vir lidmate wat graag hul bestaande foto wil vervang. 

Baie dankie vir almal se aandag.  As daar dalk foutiewe inligting in die huidige boekie is of as besonderhede verander het, kan u asseblief ook vir Vanessa in kennis stel. 

Haar telefoonnommer is 079 890 4234.

LIDMAATREGISTER

Gemeenskap met die Gereformeerde Kerke is opgesê deur:

Br Wikus van der Linde en egg sr Yolandi van der Linde van Lanyoloi Village 13.

NUUS VAN DIE GEREFORMEERDE KERKE IN SA

BEROEP ONTVANG

Prop R (Ruan) Steyn na GK Tsumeb as medeleraar met opdrag van kerkplanting in Oshakati

BEROEPE BEDANK

Ds C (Christiaan) Jooste van Waterberg na Potchefstroom

Ds PGP (Pieter) le Roux van Wonderboompoort na Totiusdal

SUSTERSAAMTREK

Die Saamtrek waaroor ons verskeie kere berig het, vind DV eerskomende Saterdag in ons kerkgebou en –saal plaas. 

Ons wens al die susters wat dit gaan bywoon ’n sielsverrykende ervaring toe en aan sr Ester Botha en haar span baie sterkte en seën by die aanbied daarvan. 

Ons weet daar het baie organisasie en voorafwerk plaasgevind waarvan hulle Saterdag die vrugte gaan pluk. 

Ons vertrou dat alles vlot gaan verloop!

BELANGRIKE DATUMS IN DIE RES VAN DIE EERSTE KWARTAAL

Saterdag 07 Maart – Sustersaamtrek

Sondag 08 Maart:

Diakonievergadering om 17:00

Ouderlingevergadering na die aanddiens

Sondag 15 Maart:

Nagmaal

Gemeente-ete om 11:30

Vrydag 20 Maart – Skole sluit

Saterdag 21 Maart – Menseregtedag

Dinsdag 31 Maart – Skole open

GEDAGTE VIR DIE WEEK

Wat jy moet doen, is om na jou God toe terug te keer:

jy moet Hom liefhê en sy bevele gehoorsaam,

jy moet jou hoop altyd op jou God vestig.

Hosea 12:7 NAV