Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika bestaan sedert 1859 reeds, en het van die oorspronklike 5 kerke, tot 389 kerke in 2017 gegroei, Daar is tans 265 predikante. Plaaslike kerke is regoor die RSA en ook in Namibië, Botswana, Zimbabwe en Zambië versprei. Daar is tans 276 predikante wat hierdie kerke, in ongeveer 15 tale bedien. Die GKSA het sy eie Teologiese Skool wat in 1869 in Burgersdorp begin het en sedert 1905 in Potchefstroom gevestig is. Daar is 15 professore en 3 administratiewe beamptes verbonde aan die Teologiese Skool wat by die Fakulteit Teologie van die NWU ingeskakel is.

Elke Gereformeerde gemeente is ʼn selfstandige kerk wat in gehoorsaamheid aan die Koning van die kerk Sy Woord verkondig en alles wil doen waarvoor Hy sy kerk wil gebruik. Elke gemeente staan daarom bekend as “Die Gereformeerde Kerk ….”. Die kerke saam is as Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) een in kerkverband, en vergader saam in meerdere vergaderings (Klassis, streeksinode en algemene sinode) om mekaar te kan bystaan in die vervulling van die kerk se roeping.

Die Teologiese Skool het ook sy eie biblioteek. Die GKSA beskik oor ’n eie argief en ’n doelmatige geboue-kompleks wat ook ’n toegeruste ouditorium insluit. Die GKSA het ekumeniese bande met kerke in die VSA, Skotland, Nederland, Australië, Nieu-Seeland, Brasilië, die Kongo, Japan en Korea. Die GKSA staan op die grondslag van die Heilige Skrif, die drie Formuliere van Eenheid en die Dordtse Kerkorde.