DIE HEILIGE NAGMAAL WORD DEUR DS KOBUS BOTHA, ONS PREDIKANT, WAARGENEEM
DIE SAKRAMENT VAN DIE HEILIGE NAGMAAL
Die Sakrament van die Heilige Nagmaal word vanoggend gevier.
Lidmate van ander kerke wat by die Kerkraad aansoek gedoen het om hier Nagmaal te gebruik, het die nodige toestemming en word saam met die Gemeente hartlik daartoe uitgenooi. Ons bede is dat die Here vir ons as Gemeente en as individue ryklik sal seën en dat ons in ons geloof versterk sal word.
Alhoewel ons vol sonde en ellende is, weet ons dat dit nie die bedoeling van die Nagmaal is om die verslae harte van die gelowiges kleinmoedig te maak nie. Ons kom juis na die Nagmaal omdat ons ons reinigmaking en saligheid buite onsself in Christus soek.
Soos die afgelope aantal kere die geval was, sal Nagmaal slegs in die banke bedien word.
Ons noem ook weer dat daar naas die wyn, ook druiwesap in die kelkies bedien sal word. Dit word teenaan die handvatsel van die skinkbord geplaas en is ook gemerk.
VANOGGEND SE LITURGIE
Sang voor die erediens begin
Liedboek 163: 1
Votum en Seëngroet
1. Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het, en getrou bly tot in ewigheid.
2. Genade en vrede vir u van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die Heerser oor die konings van die aarde. Amen.
Lofsang: Liedboek 190: 1,2 & 3
Nagmaalsformulier: Instelling (Terwyl ons staan)
Luister na die instellingswoorde van die heilige nagmaal van ons Here Jesus Christus soos Paulus dit beskryf:
Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.
Net so ook die beker na die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. Maar die mens moet homself beproef en so van die brood eet en uit die beker drink.
Geloofsbelydenis: Nicea
Wet: Nagmaalsformulier: Selfondersoek
Om die nagmaal reg en troosryk te vier is dit nodig om onsself vooraf reg te ondersoek en dit tot sy gedagtenis te gebruik.
Die ware selfondersoek bevat hierdie drie hoofpunte:
Ons moet nadink oor ons sonde en vervloeking en ons met diepe berou hieroor voor God verootmoedig.
Ons moet die vaste belofte van God glo dat al ons sondes alleen op grond van die soenverdienste van Christus vergewe is en dat sy volkome geregtigheid ons toegereken en geskenk is.
Ons moet die opregte begeerte hê om met ons hele lewe dank aan God te bewys, opreg voor Hom te wandel en in ware liefde en eensgesindheid met ons naaste te lewe.
Wie so gesind is, wil God in genade aanneem en in die seëninge van die nagmaal laat deel. Maar hulle wat hardnekkig en sonder berou God se gebod oortree, eet en drink ‘n oordeel oor hulleself.
Daarom verkondig ons aan alle afgodsdienaars, towenaars en waarsêers en die wat aan hulle glo, godslasteraars en skeurmakers in kerk en staat, meinediges en ongehoorsames, moordenaars en twissoekers, egbrekers, hoereerders, dronkaards, diewe, rowers, dobbelaars en gierigaards om nie na die nagmaal van die Here te kom nie. Want niemand wat liefdeloos en aanstootlik lewe, het deel aan die ryk van Christus nie.
Tog kom ons nie na die nagmaal omdat ons onsself sondeloos en volmaak ag nie; inteendeel, ons kom juis omdat ons ons lewe buite onsself in Christus soek. Daarmee erken ons dat ons van nature deur die sonde dood is. Ons het inderdaad nog baie gebreke: gebrek aan geloof, aan ywer in God se diens, aan liefde tot God en ons naaste.
Ons het egter deur die genade van die Heilige Gees van harte berou oor ons sondes en begeer opreg om volgens al die gebooie van God te lewe. Daarom kan ons seker wees dat God ons in genade aanneem en waardig maak om deel te hê aan die hemelse spys en drank.
Antwoord op Wet: Skrifberyming 5-3: 2
Nagmaalsformulier: Gedagtenis
Die Here leer ons die doel van die nagmaal wanneer Hy sê: Doen dit tot my gedagtenis. Om dit te doen moet ons opreg glo dat Hy deur die Vader na hierdie wereld gestuur is, dat Hy ware mens geword het en as sondelose Lam die toorn van God gedurende sy hele lewe op aarde vir ons gedra het. Hy het met volmaakte gehoorsaamheid God se wet vir ons vervul. Hy het ons smaad gedra sodat ons nooit weer tot skande sou word nie. Hy is onskuldig ter dood veroordeel sodat ons voor die gerig van God vrygespreek kan word. Hy is aan die kruis gespyker om die skuldbrief van ons sondes vas te nael. So het Hy ons vervloeking op Hom geneem om ons met sy seën te vul. Hy het helse pyn en smart en bange Godverlatenheid gely toe Hy uitgeroep het: My God, my God, waarom het U My verlaat? sodat ons nooit meer deur God verlaat sou word nie.
Eindelik het Hy met sy dood en bloedstorting die ewige genadeverbond bekragtig met die woorde: Dit is volbring.
Wanneer ons so aan Hom dink, word die tekens van brood en wyn telkens weer ‘n versekering dat Hy Hom in ons plek oorgegee het en dat Hy ons so seker met sy liggaam en bloed voed as wat ons die brood en wyn eet en drink. So wil die lewende Christus deur sy Gees ons van sy liefde verseker en ons tot die vaste wete bring dat ons ook tot hierdie genadeverbond behoort. En elke maal as ons nagmaal vier, verkondig ons sy dood totdat Hy kom.
Daarom laat die fees van die nagmaal ons ook met groot verlange uitsien na die bruilofsmaal van die Lam. So leer die nagmaal ons om die enige kruisoffer van ons Here Jesus Christus as die enigste grondslag van ons saligheid in die geloofte omhels. Daar is sy liggaam gebreek en sy bloed vergiet tot ‘n volkome versoening van al ons sondes en het Hy vir ons die ware voedsel en drank van die ewige lewe geword. Deur sy dood het Hy ook vir ons die lewendmakende Gees verwerf, wat ons aan Christus in ware gemeenskap verbind en in al sy rykdomme laat deel. Dieselfde Gees bind ons ook as lede van een liggaam in ware liefde saam. Omdat ons almal aan die een brood deel het, is ons almal een liggaam. Daarom moet ons almal wat deur die geloof in Christus ingelyf is, hierdie eenheid in liefde met woord en daad teenoor mekaar bewys. Mag God deur sy Gees ons daartoe help. Amen.
Gebed vir Woordverkondiging
Sing Psalm 116: :1 & 4
Skriflesing & Prediking
Spreuke 30: 24 tot 28 & Matteus 5: 13 tot 16
Teksverse:
Spreuke 30: 28
“ ‘n geitjie kan jy met die hand vang en tog kry jy hom in koninklike paleise.
Gebed: Nagmaalsformulier”
Laat ons ons nou eers voor God verootmoedig en Hom gelowig om sy genade aanroep:
Barmhartige God en Vader, Ons dank U dat ons die troosryke gebeurtenis van u Seun, Jesus Christus, se bittere dood mag gedenk. Ons bid U, gee deur u Heilige Gees ‘n opregte vertroue in ons hart om ons al meer aan u Seun oor te gee, sodat ons met Hom, die hemelse brood, verkwik word en nie meer in ons sondes nie maar in Hom mag lewe. Verseker ons dat U ons genadige Vader is en ons u kinders en erfgename. Help ons om onsself te verloën, ons Heiland te bely en met verlange te wag op sy terugkoms, wanneer Hy ons in ewigheid tot Hom sal neem. Verhoor ons, o God en barmhartige Vader, om Jesus ontwil. Amen.
Sing: Psalm 23:3 (Sittende)
Lees: Nagmaalsformulier: Hartsverheffing
Verhef u harte tot Jesus Christus, ons Voorspraak aan die regterhand van die hemelse Vader, en wees verseker dat die Heilige Gees u net so seker met Jesus se liggaam en bloed versterk as wat u die tekens van brood en wyn tot sy gedagtenis ontvang.
Jesaja 55: 1
Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.
Viering van nagmaal
Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van Christus.
Neem, eet; gedenk en glo dat die liggaam van ons Here Jesus Christus gebreek is tot ‘n volkome versoening van al ons sondes.
Die beker van danksegging wat ons met danksegging seen, is die gemeenskap met die bloed van Christus. Neem, drink almal daaruit; gedenk en glo dat die kosbare bloed van ons Here Jesus Christus vergiet is tot ‘n volkome versoening van al ons sondes.
Sing aan tafel: Skrifberyming 17-3:1 (1ste tafel) en vers 2 (2de tafel)
Nagmaalsformulier: Lofverheffing
Geliefdes, omdat die Here ons met die hemelse brood verkwik het, laat ons almal saam in dankbaarheid sy Naam loof en prys met die woorde:
Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!
Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!
Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede.
Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.
Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.
So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.
Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.
Hy het selfs sy eie Seun nie gespaar nie maar Hom vir ons almal oorgegee en ons alles genadiglik met Hom geskenk[8].
Daarom sal ons mond en hart die lof van die Here verkondig van nou af tot in ewigheid. Amen.
Nagmaalsformulier: Dankgebed
Barmhartige God en Vader, Ons dank en loof U dat U die heerlike beloftes van die evangelie met hierdie nagmaal aan ons bekragtig. Ons dank U dat U u eniggebore Seun geskenk het as Middelaar en offer vir ons sondes. Ons dank U vir die ware geloof, waardeur ons deel kry aan die offer van u Seun. Ons bid U, laat deur die werking van die Heilige Gees die verkondiging van die dood van ons Here ons daagliks laat groei in die geloof en in die heerlike gemeenskap met Christus, om sy Naam ontwil. Amen.
Sing: Liedboek 510: 1 tot 4
Wegstuurseën
Die genade van ons Here, Jesus Christus, en die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap/teenwoordigheid van die Heilige Gees, sal met u elkeen wees en bly. Amen.
DEURKOLLEKTE
Om die verspreiding van die Corona-virus te beperk, neem ons nie tans in die erediens kollektes op nie omdat te veel persone dan die sakkie moet hanteer.
Daarom word BEIDE kollektes by die deure opgeneem.
Die bydraes vir die Diakonie se kas vir barmhartigheid word in die sakkie met die houtraamwerk geplaas terwyl die gewone deurkollekte wat vandag vir die Emeritaats-fonds bedoel is, in die sakkie met die houthandvatsel opgeneem word.
GESAMENTLIKE GEMEENTE-ETE
Na die Nagmaalsdiens vanoggend vind die gebruiklike en baie aangename Gemeente-ete om 11:30 in die kerksaal plaas.
Elkeen wat die ete wil bywoon, moet asseblief hulle eie eetgerei en drinkgoed saambring.
Die koste daaraan verbonde beloop R50 vir volwassenes en R30 vir laerskoolkinders.
Ons bedank graag die Sustersbestuur wat verantwoordelik is vir die reëlings.
LIDMATE TER APPROBASIE AS KERKRAADSLEDE
Die name van die volgende lidmate word ter approbasie aan die Gemeente voorgehou om te dien as diakens:
- Sr Anél Havenga, Graceland 23
- Br Koos du Pisanie, Monte Video 40
- Br Piet Mosca, Ben Tindallstraat 10
- Br Pieter van Rooyen, Winterstraat 13
Ons bid hierdie broeders en suster die seën van die Here toe by die oorweging van die roeping.
Dis werklik iets besonders om in diens van die Here en Sy kerk te mag wees!
LIDMAATREGISTER
Met attestasie vertrek eersdaags na die GK Mosselbaai:
Br Gert en sr Esther Jordaan van Arezzo 27, Langenhovenpark.
Br Gert het vir sewe jaar getrou gedien as ouderling in die wyk Groenvlei.
Waar hulle nou hulle aftreejare op Reebok gaan sluit, wens ons hulle net gesonde en geseënde jare toe.
Met attestasie het vertrek na Sandton:
Br Drikus Klopper van Rusticana 4. Br Drikus sal sodra hy daar gevestig is, besluit by watter gemeente hy sal aansluit.
Opgeneem in die Gemeenskap van die Gereformeerde Kerke:
Br Marco Mason van Erns Jansenstraat 14A. Br Marco woon reeds vir ‘n geruime tyd die eredienste by saam met sy eggenote, sr Carlise, wat al voor hulle troue lidmaat van ons Gemeente was. Ons heet nou vir br Marco amptelik welkom in ons midde en vertrou dat hy baie gelukkig hier sal wees.
ONS DINK AAN ………..
Sr Ina Venter wat in die hospitaal is vir behandeling.
ZAPPER KODE
Lidmate word versoek om die Zapper – “toepassing” af te laai om sodoende in staat te wees om die kode wat in hierdie nuusbrief ingesluit is, te skandeer.
Soos voorheen in die nuusbrief vermeld is, is dit ‘n metode om u maandelikse bydrae af te dra. Daar sal ook later ‘n kode vir Diakonale bydrae’s beskikbaar wees.
ONS OMGEEBOEKIE
Die laaste uitgawe van hierdie boekie was in 2019 en is heelwat van die inligting wat daarin voorkom, nl. name, verjaarsdae, adresse, kontaknommers en foto’s, dus nie meer op datum nie.
Ons beplan om ‘n 2022-uitgawe beskikbaar te stel. Ten einde te verseker dat die inligting wat daarin verskyn korrek is, is die ouderlinge versoek om tydens huisbesoek elke lidmaat se besonderhede te bevestig.
Lidmate wat hulle ou foto wil vervang, diegene wat nog nie ‘n foto ingestuur het nie, asook nuwe lidmate, word versoek om intussen nuwe foto’s vir ons per e-pos te stuur na die Kerkkantoor by kantoor@gkbfnnoord.co.za of na ds Kobus by kdopper@lantic.net
Ons het tot dusver nog geen reaksie ontvang nie!
Neem asseblief die vrymoedigheid en stuur julle foto’s in!
VERJAARSDAE
Die volgende lidmate verjaar gedurende hierdie week.
Baie hartlik geluk!
Ontvang ons allerbeste seënwense vir die nuwe lewensjaar!
Vandag
Br Jan Eloff – 083 310 5661
Sr Karin Pienaar – 076 181 3764
Sr Karin du Plessis – 060 826 7721
17 Maart
Br Jurie Geldenhuys – 082 822 3300
Sr Wilri Storm – 051 422 4811
18 Maart
Karli van Niekerk – 082 796 7196
Ryan van der Walt – 082 411 4445
GEDAGTE VIR DIE WEEK MET NAGMAAL
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die
Here Jesus Christus, wat Homself vir ons sondes
gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose
wêreld en so die wil van God ons Vader
te volbring. Aan God kom die
heerlikheid toe tot in alle
ewigheid! Amen
Gal 1:3,4,5
