DIE HEILIGE NAGMAAL WORD DEUR DS KOBUS BOTHA, ONS PREDIKANT, WAARGENEEM
DIE SAKRAMENT VAN DIE HEILIGE NAGMAAL
Daar sal vanoggend twee dienste, om 8:30 en 10:30, gehou word waartydens die Sakrament van die Heilige Nagmaal gevier sal word.
Lidmate van ander kerke wat by die Kerkraad aansoek gedoen het om hier NagmaaL te gebruik, word hartlik saam met die Gemeente daartoe uitgenooi.
As gevolg van die risiko daaraan verbonde, sal die Nagmaal vanoggend slegs in die banke/tafels slegs met kelkies bedien word.
As gevolg van die huidige regulasies wat geld, sal die nagmaal slegs in die banke en slegs met kelkies bedien word. Die brood sal vooraf in geseëlde houers uitgedeel word, terwyl die diakens die kelkies met wyn of druiwesap op skinkborde sal rondneem. U word versoek om die houer met die brood oop te maak sodra u u sitplek ingeneem het ten einde te verhoed dat die gewyde stilte tydens die seremonie versteur word.
Ons bede is dat die Here ons ten spyte van al die beperkings, nogtans ryklik sal seën en dat ons so in ons Geloof versterk mag word!
KOLLEKTES
Daar sal vanoggend weer twee kollektes by die deure opgeneem word.
Die kollekte vir die GKSA se Emiritaatsfonds word in die sakkie met die houthandvatsel geplaas.
Dié vir die Diakonale Kas van Barmhartigheid in die sakkie met die houtraamwerk
Die diakens wat die kollektes opneem, sal lidmate verdere verduidelikings gee indien nodig.
GEMEENTE-ETE
Die gesamentlike Gemeente-ete begin vanoggend om 12:00 in die kerksaal.
Almal wat dit gaan bywoon, moet asseblief u eie breekgoed en drinkgoed saambring.
Betalings kan tydens die ete geskied of elektronies oorbetaal word.
ONS GEMEENTE IS 60 JAAR GELEDE GESTIG
Dit was Vrydag, 15 Oktober, die herdenking van ons Gemeente se 60ste bestaansjaar.
Weens die vlak 3 inperkingsregulasies wat tot onlangs gegeld het, is daar besluit om nie hierdie jaar ‘n feesvieringsgeleentheid te hou nie.
Vandag se Nagmaalsviering word as geleentheid te gebruik om ons dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader te betoon vir 60 jaar van genade.
VANOGGEND SE LITURGIE
Sang voor die erediens begin
Psalm 20: 1 tot 3
Votum en Seëngroet
Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het, en getrou bly tot in ewigheid.
Genade en vrede vir u van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die Heerser oor die konings van die aarde. Amen.
Lofsang: Liedboek 190:1,2,3
Nagmaalsformulier: Instelling
Luister na die instellingswoorde van die heilige nagmaal van ons Here Jesus Christus soos Paulus dit beskryf:
Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.
Net so ook die beker na die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. Maar die mens moet homself beproef en so van die brood eet en uit die beker drink.
Geloofsbelydenis: Nicea
Wet: Nagmaalsformulier: Selfondersoek
Om die nagmaal reg en troosryk te vier is dit nodig om onsself vooraf reg te ondersoek en dit tot sy gedagtenis te gebruik.
Die ware selfondersoek bevat hierdie drie hoofpunte:
Ons moet nadink oor ons sonde en vervloeking en ons met diepe berou hieroor voor God verootmoedig.
Ons moet die vaste belofte van God glo dat al ons sondes alleen op grond van die soenverdienste van Christus vergewe is en dat sy volkome geregtigheid ons toegereken en geskenk is.
Ons moet die opregte begeerte hê om met ons hele lewe dank aan God te bewys, opreg voor Hom te wandel en in ware liefde en eensgesindheid met ons naaste te lewe.
Wie so gesind is, wil God in genade aanneem en in die seëninge van die nagmaal laat deel. Maar hulle wat hardnekkig en sonder berou God se gebod oortree, eet en drink ‘n oordeel oor hulleself.
Daarom verkondig ons aan alle afgodsdienaars, towenaars en waarsêers en die wat aan hulle glo, godslasteraars en skeurmakers in kerk en staat, meinediges en ongehoorsames, moordenaars en twissoekers, egbrekers, hoereerders, dronkaards, diewe, rowers, dobbelaars en gierigaards om nie na die nagmaal van die Here te kom nie. Want niemand wat liefdeloos en aanstootlik lewe, het deel aan die ryk van Christus nie.
Tog kom ons nie na die nagmaal omdat ons onsself sondeloos en volmaak ag nie; inteendeel, ons kom juis omdat ons ons lewe buite onsself in Christus soek. Daarmee erken ons dat ons van nature deur die sonde dood is. Ons het inderdaad nog baie gebreke: gebrek aan geloof, aan ywer in God se diens, aan liefde tot God en ons naaste.
Ons het egter deur die genade van die Heilige Gees van harte berou oor ons sondes en begeer opreg om volgens al die gebooie van God te lewe. Daarom kan ons seker wees dat God ons in genade aanneem en waardig maak om deel te hê aan die hemelse spys en drank.
Sang in Antwoord op Wet: Skrifberyming 8-1: 1 & 2
Nagmaalsformulier: Gedagtenis
Die Here leer ons die doel van die nagmaal wanneer Hy sê: Doen dit tot my gedagtenis. Om dit te doen moet ons opreg glo dat Hy deur die Vader na hierdie wereld gestuur is, dat Hy ware mens geword het en as sondelose Lam die toorn van God gedurende sy hele lewe op aarde vir ons gedra het. Hy het met volmaakte gehoorsaamheid God se wet vir ons vervul. Hy het ons smaad gedra sodat ons nooit weer tot skande sou word nie. Hy is onskuldig ter dood veroordeel sodat ons voor die gerig van God vrygespreek kan word. Hy is aan die kruis gespyker om die skuldbrief van ons sondes vas te nael. So het Hy ons vervloeking op Hom geneem om ons met sy seën te vul. Hy het helse pyn en smart en bange Godverlatenheid gely toe Hy uitgeroep het: My God, my God, waarom het U My verlaat? sodat ons nooit meer deur God verlaat sou word nie.
Eindelik het Hy met sy dood en bloedstorting die ewige genadeverbond bekragtig met die woorde: Dit is volbring.
Wanneer ons so aan Hom dink, word die tekens van brood en wyn telkens weer ‘n versekering dat Hy Hom in ons plek oorgegee het en dat Hy ons so seker met sy liggaam en bloed voed as wat ons die brood en wyn eet en drink. So wil die lewende Christus deur sy Gees ons van sy liefde verseker en ons tot die vaste wete bring dat ons ook tot hierdie genadeverbond behoort. En elke maal as ons nagmaal vier, verkondig ons sy dood totdat Hy kom.
Daarom laat die fees van die nagmaal ons ook met groot verlange uitsien na die bruilofsmaal van die Lam. So leer die nagmaal ons om die enige kruisoffer van ons Here Jesus Christus as die enigste grondslag van ons saligheid in die geloofte omhels. Daar is sy liggaam gebreek en sy bloed vergiet tot ‘n volkome versoening van al ons sondes en het Hy vir ons die ware voedsel en drank van die ewige lewe geword. Deur sy dood het Hy ook vir ons die lewendmakende Gees verwerf, wat ons aan Christus in ware gemeenskap verbind en in al sy rykdomme laat deel. Dieselfde Gees bind ons ook as lede van een liggaam in ware liefde saam. Omdat ons almal aan die een brood deel het, is ons almal een liggaam. Daarom moet ons almal wat deur die geloof in Christus ingelyf is, hierdie eenheid in liefde met woord en daad teenoor mekaar bewys. Mag God deur sy Gees ons daartoe help. Amen.
Gebed vir Woordverkondiging
Sing Psalm 116:4,5
Skriflesing & Prediking
1 Korintiërs 1: 18 tot 2:5
Teksverse:
1 Korintiërs 2: 2
“Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde.”
Gebed: Nagmaalsformulier
Laat ons ons nou eers voor God verootmoedig en Hom gelowig om sy genade aanroep:
Barmhartige God en Vader, Ons dank U dat ons die troosryke gebeurtenis van u Seun, Jesus Christus, se bittere dood mag gedenk. Ons bid U, gee deur u Heilige Gees ‘n opregte vertroue in ons hart om ons al meer aan u Seun oor te gee, sodat ons met Hom, die hemelse brood, verkwik word en nie meer in ons sondes nie maar in Hom mag lewe. Verseker ons dat U ons genadige Vader is en ons u kinders en erfgename. Help ons om onsself te verloën, ons Heiland te bely en met verlange te wag op sy terugkoms, wanneer Hy ons in ewigheid tot Hom sal neem. Verhoor ons, o God en barmhartige Vader, om Jesus ontwil. Amen.
Sing: Psalm 23:3
Lees: Nagmaalsformulier: Hartsverheffing
Verhef u harte tot Jesus Christus, ons Voorspraak aan die regterhand van die hemelse Vader, en wees verseker dat die Heilige Gees u net so seker met Jesus se liggaam en bloed versterk as wat u die tekens van brood en wyn tot sy gedagtenis ontvang.
Matteus 11:28-30
28 Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.
30 My juk is sag en my las is lig.”
Viering van nagmaal
Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van Christus.
Neem, eet; gedenk en glo dat die liggaam van ons Here Jesus Christus gebreek is tot ‘n volkome versoening van al ons sondes.
Die beker van danksegging wat ons met danksegging seen, is die gemeenskap met die bloed van Christus. Neem, drink almal daaruit; gedenk en glo dat die kosbare bloed van ons Here Jesus Christus vergiet is tot ‘n volkome versoening van al ons sondes.
Sing aan tafel: Skrifberyming 17-3:1 (1ste tafel) en vers 2 (2de tafel)
Nagmaalsformulier: Lofverheffing
Geliefdes, omdat die Here ons met die hemelse brood verkwik het, laat ons almal saam in dankbaarheid sy Naam loof en prys met die woorde:
Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!
Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!
Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede.
Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.
Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.
So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.
Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.
Hy het selfs sy eie Seun nie gespaar nie maar Hom vir ons almal oorgegee en ons alles genadiglik met Hom geskenk[8].
Daarom sal ons mond en hart die lof van die Here verkondig van nou af tot in ewigheid. Amen.
Nagmaalsformulier: Dankgebed
Barmhartige God en Vader, Ons dank en loof U dat U die heerlike beloftes van die evangelie met hierdie nagmaal aan ons bekragtig. Ons dank U dat U u eniggebore Seun geskenk het as Middelaar en offer vir ons sondes. Ons dank U vir die ware geloof, waardeur ons deel kry aan die offer van u Seun. Ons bid U, laat deur die werking van die Heilige Gees die verkondiging van die dood van ons Here ons daagliks laat groei in die geloof en in die heerlike gemeenskap met Christus, om sy Naam ontwil. Amen.
Sing: Liedboek 510:1-,4
Wegstuurseën
Die genade van ons Here, Jesus Christus, en die liefde van God ons Vader, en die gemeenskap/teenwoordigheid van die Heilige Gees, sal met u elkeen wees en bly. Amen.
GELUKWENSE AAN SENIOR LIDMATE WAT HIERDIE WEEK VERJAAR:
Br Frik van Sittert82 van Constantiapark 40 wat vandag verjaar.
Sr Vreda van der Walt74 van Santé wat vandag verjaar.
Sr Esmé Kruger70 van Geelhoutgang 7 wat Donderdag verjaar
Sr Rina Strydom86 van Azalea 27 wat Donderdag verjaar
Baie hartlik geluk!
LIDMATE WAT HIERDIE WEEK VERJAAR
BELYDENDE LIDMATE
Vandag
Br Stephan Nieuwoudt – 051 436 1488
18 Oktober
Sr Daniella Boshoff – 082 202 5950
19 Oktober
Br Piet Mosca – 082 801 1057
21 Oktober
Sr Liza Coetsee-Hugo – 082 729 0027
Sr Petro Swanepoel – 084 200 1709
Sr Marieta van Niekerk – 082 290 8889
23 Oktober
Sr Elrike Wolmarans – 072 239 2015
DOOPLIDMATE
19 Oktober
Hunter Mclean – 072 455 8484
20 Oktober
Kobus van Rooyen – 083 308 4658
21 Oktober
Estelle van Rooyen – 073 617 9222